ER24-STIGTER EN KANKEROORLEWENDE DEEL SLEUTELLESSE


Andrew Boden, die stigter van die mediese nooddiens ER24, kom uit ’n mediese gesin en omdat dit sy werk is om siek mense so vinnig as moontlik by die hospitaal te kry, weet hy hoe belangrik vroeë behandeling vir goeie pasiënt uitkomste is. Hy weet ook dat daar baie min plekke in die wêreld is waar pasiënte binne dae ná diagnose behandeling begin kry – soos hulle in Suid-Afrika kry.

Diagnose

Tien dae ná kanker (kolorektale klierkanker en stadium 4- pulmonêre uitsaaiing) by hom gediagnoseer is, het hy met lewensreddende behandeling begin wat deur Remedi se mediese dekking toeganklik gemaak is.

Andrew se kankerreis – en hy erken gou dat alle mense se reise verskillend is – het hom aanhoudend op sy werksetiek laat fokus. Hy het sy chemoterapiesessies en bestralingsbehandeling noukeuring om sy werksure beplan en naweke gebruik om te herstel. Vir hom was dit deel van sy terapie om dinge so normaal as moontlik te hou. Andrew vertel sy storie in sy eie woorde.

Ek het nie regtig simptome gehad nie. Hulle het dit op 23 Julie 2015 tydens ’n roetinekolonoskopie opgetel. Dit is die dag waarop my lewe verander het. 

Dit is een ding as kolorektale kanker by mens gediagnoseer word, maar ek is deur ’n dubbele terugslag getref deurdat ek stadium 4-metastase het wat na my longe versprei het. Vir die eerste dag of wat het ek nie tyd gehad om daaroor te dink of dit te verwerk nie. Tussen die dokters en Remedi het die wiele baie gou aan die rol gekom. Binne 24 uur ná die kolonoskopie het ek reeds ’n chemiese onkoloog en ’n bestralingsonkoloog gesien. Drie dae later is ek terug hospitaal te om ’n poort in my borskas te laat insit en twee dae daarna het ek met my eerste behandeling begin. Selfs in die Kanadese gesondheidstelsel – een van die bestes ter wêreld – sal jy nie in so ’n kort tydjie van diagnose na behandeling vorder nie. Daar is baie min plekke ter wêreld waar dit gebeur.

Vat elke dag soos hy kom

My behandeling het aanvanklik bestaan uit chemoterapie elke twee weke en 28 daaglikse bestralingsessies – gelyktydig. Saam het dit blykbaar ’n versterkingseffek. Die bestraling het gefokus op die primêre gewas in die kolorektale gebied.

Voor die diagnose het ek ’n normale lewe gelei – drie of vier keer per week gimnasium toe gegaan, golf gespeel, hard gewerk. Ek het uit die staanspoor besluit om normaal voort te gaan om te werk. Dit was deel van my geestesgesondheid om aan te hou werk. Ek het dus Donderdag chemoterapie gehad, Vrydag tuis spandeer en Maandag was ek terug op kantoor. Ek het my bestraling oor middagete op weeksdae bepreek sodat ek soggens kon werk en ná die tyd terug gaan kantoor toe. Gelukkig is my vrou ’n verpleegsuster. Sy kon dus so teen middagete op ’n Saterdag die chemoterapiepomp verwyder en die poort in my borskas deurspoel. Vir die res van Saterdag en Sondag was ek dan buite aksie.

In die eerste weke ná die diagnose het ek deur ’n hele reeks emosies gegaan. Vir die eerste keer moes ek oor die dood dink. Jy het geen idee wanneer dit kan kom nie. As dinge slegter raak ten spyte van behandeling, het ek begin wonder hoeveel tyd ek het? Jy kry nie ’n reguit antwoord nie. My vrou het ons drie seuns van 16, 13 en 12 sielkundig begin voorberei want sy was op daardie stadium oortuig dat ek binne ses maande bedlêend en baie siek sou wees.

Andrew se vrou, Carryn voeg by: Dit was vir ons belangrik om werklik eerlik te wees met ons seuns. As ek terugkyk, was dit die regte ding om te doen. Ons het ons op die slegste voorberei en vir die beste gehoop. Ons het nooit iets vir hulle weggesteek nie. Die seuns was bang. Dit was aaklig. Ons jongste wou ontvlug deur saam met vriende te wees wanneer Andy platgetrek was. Die ouer seuns het ons albei baie ondersteun.

Andrew vervolg: Gelukkig is ek die soort mens wat vorentoe kyk, en nie agtertoe nie. Ek het besluit om alles deel van my alledaagse lewe te maak. Daar is sommige dae wat baie moeilik was, veral toe ek op dubbelterapie was. Ek moes ’n paar veranderings maak om te kon funksioneer. Die bestraling werk op mens se kolon en my maag was onvoorspelbaar. Ek het dus seker gemaak dat ek spitsverkeer vryspring. Ek was ook naar en hipersensitief vir koue – nie aangenaam in Johannesburg se winter nie. Daar was ’n verandering in die gevoel in my hande en voete as gevolg van die chemoterapie – naalde en spelde, hipersensitiwiteit vir temperature en ’n groot invloed op balans. Dit het veroorsaak dat ek snaaks begin loop (skuifel). Die geskuifel is nou weg maar die neuropatie in my hande en voete is steeds daar – jy leer om oor die weg te kom, maar fynmotoriese werk bly ’n uitdaging.

Finansiële en administrasieondersteuning – puik

Sover dit finansies aangaan, het my Omvattende Opsie op Remedi vir feitlik alles betaal. Die onkologieprogram het ingeskop en elke behandeling gemagtig. In my tweede jaar van terapie moes ek 20% van sommige van die mediese koste bydra, want die biologiese chemoterapie waarop ek was, was baie duur en het my koste oor die jaarlikse limiet gestoot. Inligting en ondersteuning was baie goed en hulle het my op hoogte gehou met magtigings en alle navrae vinnig opgevolg.

Met die eisproses was daar ’n ongelooflike man, Thuso, by Remedi se oproepsentrum. Hy het ’n groot verskil aan ons administrasie gemaak. Hy was op hoogte met al ons eise en het laat weet wanneer ons bybetalings moes betaal.

Ná die eerste ses maande se behandeling het ek op orale chemoterapie oorgegaan en in Junie verlede jaar het ek ’n operasie gehad om die deel van die kolon waar die primêre gewas is, te verwyder. Met die reseksie het hulle bevind dat die bestraling die gewas vernietig het, en daar was geen teken van die gewas nie. Dit is die ou debat – chemoterapie eerste of chirurgie eerste? Die kolongewas was aanvanklik so groot dat die endoskoop nie kon verby kom nie, dit was 75% verstop. Nou is dit heeltemal skoon. Die enigste slegte ding is dat bestraling inmeng met die manier waarop mens se liggaam herstel en ek het vog onder die vel gehad naby die operasiesnit, wat omtrent twee maande geneem het om op te los. Ek het nou ’n redelike groot breuk by die operasiesnit wat die middelste deel van my buikspier oop laat. Ek dra ’n korset wat effens ongemaklik en esteties nie welgevallig is nie.

My longe het aanvanklik goed op die biologiese behandeling gereageer, maar skanderings het aktiwiteit op die letsels in my longe getoon. Na aanleiding daarvan het ek ’n kursus steriotaktiese radiochirurgie gehad – gefokuste bestralingsterapie aan die longletsels. Ek begin binnekort met die volgende kursus chemoterapie. Tans is daar steeds aktiwiteit in die longletsels, hoewel die res van my liggaam skoon, sonder siekte, is. Dit word voortdurend gemonitor met bloedtoetse en gereelde skanderings.

Maak my reg vir die toekoms

Emosioneel was dit ’n tuimeltrein. Almal moet weet dat sodra hierdie proses begin, dit ’n maraton is en nie ’n naelloop nie. Jy moet jouself voorberei vir die langtermyn – en dankbaar wees dat daar ’n langtermyn is – baie is nie so gelukkig nie!

Twee goed het my daarvan weerhou om aan die dood en doodgaan te dink. Die eerste is geloof. As gesin het ons ’n diep Christelike geloof. Jy besef dat daar niks is wat jy nie kan doen nie. ’n Orkes speel, maar jy is nie die dirigent nie. Ja, jy het ’n rol te speel, maar jy is net een van die mense op die verhoog. As gesin leun ons op mekaar om positief te bly. Die ander ding is dat ek nie siek lyk nie. Ek is dankbaar daarvoor. Die behandeling het ’n beperkte invloed op my voorkoms gehad. Verskeie emosies het by my opgekom toe ek met ’n onlangse behandeling al my hare verloor het, veral toe groot klosse in die handdoek afgekom het nadat ek gestort het. Nadat ek ’n ruk lank soos ’n “arendkuiken” gelyk het, het dit gou reggekom. Ek het gelukkig nie my wenkbroue en wimpers verloor nie.

Ek sal daarvan hou as ’n dieetkundige in ’n meer holistiese onkologiepakket ingesluit word. Dieet en oefening is twee baie belangrike gebiede wat gewoonlik deur die onkoloë oorgesien word, maar ’n beduidende invloed het op jou vermoeë om die behandelingsregime te hanteer, moontlike infeksies af te weer en oor die algemeen beter oor jouself te voel.

Die ondersteuning van vriende en familie is fantasties en die wyse waarop die gemeenskap in die vroeë dae gereageer het, was ongelooflik – vir langer as 'n maand is etes daagliks afgelewer! Kollegas by Mediclinic en ER24 het baie begrip gehad en ons op die reis ondersteun. Ek is dus baie positief, begin met nuwe behandeling en beur voort.

Hierdie siekte verander jou lewe heeltemal, nie net liggaamlik en emosioneel nie, maar fundamenteel in jou uitkyk en akute verstaan van wat werklik belangrik is – mense, verhoudings en ondervindings. Vergeet van neuropatie in die hande en voete, die groot abdominale breuk en ander langtermyneffekte van chemoterapie, en fokus op kwaliteittyd en ondervindings saam met diegene wat saak maak. Daar is so baie mense wat slegter af is as jy – bly dankbaar en bowenal moet jy positief bly.