Remedi, 45 jaar jonk


Remedi is op 18 September 1972 geregistreer volgens die registrasiesertifikaat van die Raad vir Mediese Skemas.

Interessante feite oor 1972

  • Die musiekgroep ABBA is gestig.
  • Hewlett Packard het die wêreld se eerste wetenskaplike sakrekenaar bekendgestel, die HP-35.
  • Die Volkswagen Beetle het beter as die Ford Model T begin verkoop toe die 15 007 034ste Volkswagen Beetle vervaardig is.
  • Vyf entrepreneurs van Duitsland het in hul visie van die besigheidspotensiaal van tegnologie geglo en het SAP geloods.
  • Aldo-skoene is gestig as ’n konsessie in ’n reeks kettingwinkels van gewilde modeboetieks.
  • Adidas se drieblaarpatroonlogo is bekendgestel.
  • Bushnell het Atari in Junie 1972 geïnkorporeer en Pong het die eerste videospeletjie geword.
  • Die oorsese tabakbelange van Rembrandt is as Rothmans International gekonsolideer en dit is op die Londense Aandelebeurs gelys.

Remedi se geskiedenis

Ek het die gelukslag getref om Mike Botha, die voormalige Hoof van Menslike Hulpbronne by Remgro Ltd, in die hande te kry. Hy is nou met pensioen, en kon my vir ’n ruk in die geskiedenis terugneem.

Voor 1972 het werknemers van die Rembrandt-groep (nou die Remgro-groep) aan Sanmed behoort. Sanmed is deur Sanlam bestuur. Die Rembrandt-groep het in 1972 besluit om ’n interne mediese skema te stig, en het dit Rembrandt Mediese Hulpskema genoem. Slegs volle sustersmaatskappye van die Rembrandt-Groep kon aansluit. Dus het Rupert International, Distell, Rembrandt Tabakvervaardigers (ook bekend as Rembrandt Tobacco Manufacturers), Cigarette Importers and Distributors (CID) en Tobacco Exporters and Manufacturers (TEM) se werknemers lede van die Skema geword. Op daardie tydstip het die Skema ongeveer 3 000 lede gehad. Die Groep se tabakgedeelte het oor die jare ’n paar keer naam verander. CID en TEM het Transatlantic Tobacco en Intercontinental Tobacco geword, wat in die 90’s saamgesmelt het om Rothmans International te word. Rothmans International het in 1999 met British American Tobacco saamgesmelt.

In 1983 het Dr Edwin Hertzog, Mediclinic se huidige voorsitter, in opdrag van die destydse Rembrandt-groep ’n uitvoerbaarheidstudie oor privaat hospitale onderneem. Dit het tot die stigting van Mediclinic gelei. Tussen 1984 en 1985 is die Mediclinic-groep gestig deur verskeie mediese fasiliteite in Kaapstad en Johannesburg aan te skaf. Dit het Mediclinic Sandton, Mediclinic Morningside en Leewendal (wat later Mediclinic Cape Town geword het) ingesluit. Die Mediclinic-groep het mettertyd gegroei en bedryf tans 52 hospitale en 2 dagklinieke, en het ongeveer 16 832 werknemers. Ná Mediclinic om en by 1984 gestig is, het Rembrandt Mediese Hulpskema se naam na Remedi Medical Aid Scheme verander omdat Mediclinic se werknemers ook by die Skema kon aansluit. Die lidmaatskap het van ongeveer 3 000 lede in 1972 gegroei tot 21 092 in 2017. Meeste van hierdie groei is danksy Mediclinic. Vandag bestaan 63% van die totale lidmaatskap uit Mediclinicwerknemers.

Van die begin af het Remedi die administrasiegedeelte van die Skema uitgekontrakteer aan geakkrediteerde administrateurs wat vaardig en kundig in die veld is. Remedi het nog net drie administrateurs gehad, naamlik Medscheme tot die laat-90’s, Metropolitan en, vanaf 2010, Discovery Health.

Remedi is nog altyd en word steeds bestuur deur werknemers van deelnemende werkgewergroepe. Hierdie werknemers staan as die Skema se Trustees bekend. Hulle word óf deur die werkgewergroepe aangestel of deur Skemalede verkies. Dit is ’n vrywilligersposisie en die Trustees word nie vergoed nie. Hulle bestuur die Skema bo en behalwe die werk wat hulle by die werkgewergroepe verrig. Hartlik dank aan al die Trustees wat oor die jare betrokke was en die Skema oor die jare opgebou het tot wat dit vandag is.

Van 1972 het Remedi gegroei tot 21 092 hooflede en ’n totale lidmaatskap van 47 024 mense. Lidmaatskap is oop aan werknemers van die Remgro-groep, sustersmaatskappye en voormalige sustersmaatskappye van die Groep. Deelnemende werkgewersgroepe sluit in: Remgro, WWF en Richemont-luukse goedere (1.8%), Mediclinic (63.1%), die Distell-groep (16.1%), British American Tobacco (5.3%), Tracker (5.6%), die Trans Hex-groep (0.1%) en pensionarisse (8.0%).

Geluk en dankie aan almal wat van Remedi ’n merkwaardige sukses gemaak het.

Jaco Janse van Vuuren
Hoofbeampte