’n Gesonde leefstyl

Het u nuwe idees vir die nuwe jaar?

Net soos ons Kersfees in Julie kan hê, is Februarie en selfs Maart nie te laat vir nuwejaarsvoornemens nie. Om die waarheid te sê is dit nooit te laat om veranderinge te maak om u gesondheids- en fiksheidsdoelwitte te bereik nie.

Gesonde kos is nie vervelige kos nie

Baie mense is bang dat hulle van slaai sal moet leef as hulle hulle eetgewoontes moet aanpas. Hulle dink ook dat “gesonde kos” beteken dat hulle nooit weer lekker, gekookte kos kan eet nie. Daar is goeie nuus – daar is ’n miljoen ander mense wat ’n gesonde leefstyl wil hê en baie van hulle deel hulle resepte aanlyn. Wat u ook al uit u dieet uitsny, daar is resepte om u te help.

Dit mag ’n rukkie neem om by u nuwe eetgewoontes aan te pas. Eksperimenteer met gesonde kos – het u geweet dat ’n appel dadelik soeter proe as dit gebak word?

Ons voorstel vir ’n voorneme

Daar is nie een stel gesonde eetgewoontes wat vir almal werk nie. ’n Goeie plek om te begin is om drinkgoed wat suiker bevat, uit te sny. Ons praat nie net van gaskoeldrank nie. Daar is baie verskuilde suiker in ”gesonde” drankies soos sportdrankies, sap en selfs vitamienwater.

Oefening beteken nie noodwendig dat u gimnasium toe moet gaan nie

Daar is baie mense wat die gimnasiumkultuur geniet. As u reeds in ’n gimnasium oefen en u voorneme is om meer tyd daar te spandeer, is dit binne u bereik. U kan begin deur ’n ekstra minuut by u kardio-oefeninge te sit en ’n paar ekstra herhalings van u oefeninge met gewigte te doen. Moenie eensklaps met nuwe oefening begin sonder om dit stelselmatig op te bou nie, anders kan u maklik seerkry en dan geen vordering maak nie.

Hoe gemaak as u nie daarvan hou om gimnasium toe te gaan nie? U kan aktief raak sonder om ooit u voete in ’n gimnasium te sit. Die geheim is om iets te kry wat u sal geniet. Moenie aan u aktiwiteit dink as oefening nie, dink daaraan as ’n nuwe stokperdjie. As u baie onfiks is, oorweeg iets soos tai chi, want die bewegings is stadig. Dans is ook uitstekende oefening. Enige iets wat u laat beweeg, help!

Ons voorstel vir ’n voorneme

U hoef nie onmiddellik oor nuwe oefening te besluit nie. Ons stel eerder voor dat u in die oggend strek voordat u aantrek, sodat u gewoond kan raak om oefening te doen. Om te strek voor oefening, is een van die beste maniere om beserings te voorkom en dit kan u help om voor werk of aan die einde van die dag te ontspan.