Hoë bloeddruk – die simptoom- vrye, dodelike toestand waarvan u behoort te weet


Hoë bloeddruk is wêreldwyd ’n problem en daar word geraam dat daar teen 2025 meer as een en ’n half biljoen mense in die wêreld sal wees wat met hierdie toestand leef.

Wat is hoë bloeddruk?

Hoë bloeddruk word ook hipertensie genoem. Wanneer bloed in bloedvate vloei, is bloeddruk die slaankrag van die bloedvloei teen die wande van die bloedvate. As hierdie slaankrag bo ’n bepaalde lesing is, is bloeddruk hoog.

Bloeddruk word gemeet deur ’n bloeddrukmeter (’n sfigmomanometer) se band om u bo-arm te sit terwyl u in ’n sittende posisie is, met u arm gelig sodat die bloeddrukband op dieselfde vlak as u hart is. Om ’n akkurate lesing te verseker, ledig eers u blaas en trek soveel as moontlik van die lae klere om u arm uit. Die band word vinnig opgepomp en dan stadiger afgeblaas.

Die persoon wat die lesing neem, gebruik ’n stetoskoop om te luister presies wanneer die kenmerkende klopgeluid begin. Dit is die sistoliese bloeddruk (wanneer die hart pomp en dus die bloed uitstoot). Wanneer die klopgeluid ophou, neem die persoon weer die lesing, wat dan die diastoliese bloeddruk is (die druk tussen hartkloppe).

’n Bloeddruklesing is byvoorbeeld 120/80 mmHg – waar 120 die sistoliese druk is en 80 die diastoliese druk.

Bloeddruk se reikwydte vir volwassenes word so gekategoriseer:

  • Normale of gesonde bloeddruk: 120/80
  • Prehipertensie: 120-139 sistolies of 80-89 diastolies
  • Stadium 1-hipertensie: 140-159 sistolies of 90-99 diastolies
  • Stadium 2-hipertensie: Hoër as 160 sistolies of 100 diastolies

Hoë bloeddruk het dikwels geen simptome nie 

Dit beteken dat u hoë bloeddruk kan hê sonder dat u dit weet. Dit is sleg omdat u interne organe en bloedvate beskadig kan raak sonder dat u dit besef.

Dit is hoekom dit belangrik is om gereeld u bloeddruk te laat nagaan, sodat hoë bloeddruk so vroeg as moontlik opgespoor kan word. As behandeling vroeg begin, het u ’n kleiner risiko vir permanente skade.

Hoekom is hoë bloeddruk ’n probleem? 

Hoë bloeddruk kan tot vele gesondheidskwessies lei, soos hoofpyne, versteurde sig, naarheid en braking. Dit kan selfs u bewussynsvlak beïnvloed, tot slaaploosheid lei en in erge gevalle kan dit tot konvulsies lei. Dit kan vernouing van die bloedvate veroorsaak asook hartsiektes. Dit kan tot ’n skielike hartaanval of beroerte lei wat dodelik kan wees.

Wanneer simptome voorkom, kan dit varieer

Kortasemigheid, hartkloppings, erge moegheid, borskaspyn, duiseligheid, bloed in die urine en neusbloedings kan op hoë bloeddruk dui, maar kan ook aan ander probleme te wyte wees. Indien u enige van hierdie simptome vir ’n geruime tyd ervaar, gaan verkieslik so gou as moontlik dokter toe.

Remedi se behandelingsopsies vir hoë bloeddruk

Indien u behandelende algemene praktisyn (huisdokter) vind dat u bloeddruk verhoog is, moet u moontlik vir nog ’n paar besoeke aan u huisdokter gaan om vas te stel of die lesing sonder twyfel hoog bly.

Vir prehipertensie sal die huisdokter u waarskynlik aanraai om lewenstylveranderinge te maak om u bloeddruk te verbeter. Lewenstylveranderinge behels moontlik om gesonder te eet, meer oefening te kry en u spanning te beheer.

Vir stadium 1- en stadium 2-hipertensie sluit behandeling voorgeskrewe medisyne saam met die lewenstylveranderinge in.

Kontak 0860 116 116 sodra u huisdokter lewenstylveranderinge of voorgeskrewe behandeling aanbeveel, om uit te vind watter voordele op u gekose Voordeelopsie beskikbaar is. Dit sal verseker dat u optimale dekking en behandeling vir u toestand kry sodra dit gediagnoseer is.