Vyf insigte vanuit die gedragsekonomie wat ons kan help om ons koskeuses beter te verstaan

’n Obsogene omgewing bevorder nie gewigsverlies nie, maar moedig eerder gewigstoename aan. Die slegte nuus is dat ons in een leef. Die goeie nuus is dat ons dit kan beveg!

Vetsug (of ongesond oorgewig wees) is in amper elke land ter wêreld ’n groterwordende probleem. In die afgelope 10 tot 20 jaar het die wêreldwye siektelas trouens verskuif van wanvoeding en oordraagbare siektes na nie oordraagbare of leefstylsiektes. Meeste van die wêreld se bevolking leef deesdae in lande waar meer mense weens oorgewig of vetsug sterf as van ondergewig wees.

Hoe gebeur dit? ’n Groot deel van die antwoord is dat ons nou in ’n obsogene omgewing leef. Dit word gekenmerk deur ’n aantal sosiale, gedrags en omgewingsfaktore. Hierdie faktore dra by tot die gewigstoenamekrisis van ons tyd.

Die uitwerking van ons omgewing

Ons huidige voedselomgewing sorg vir mislukking: daar is te veel kos, dis te maklik beskikbaar en dis grotendeels ongesond.

Hoe dit gebeur:

  • Oor die afgelope dekades het voedselmaatskappye hul fokus verskuif na massavervaardigde, ultraverwerkte voedsel, soos aartappelskyfies, lekkers, sjokolades en suikeragtige drankies.
  • Hierdie kilojouleryk en voedingsarme kosse word al hoe goedkoper; daarenteen styg die prys van groente en vrugte steeds. Dit maak dit moeiliker om gesonde keuses te maak.
  • Kitskosfranchises floreer in Suid Afrika. Dit beteken ons het maklik toegang tot ’n oorvloed goedkoop en gerieflike kitskos.
  • Boonop word ons ook daagliks blootgestel aan honderde advertensies wat gemorskos bevorder. Daar is bitter min advertensies vir gesonde kos.
Vyf insigte: hoekom koop ons wat ons koop?

Jy het bes moontlik al gehoor dat jy nie winkel toe moet gaan as jy honger is nie omdat jy meer kos sal koop. Inderwaarheid koop ons dieselfde hoeveelheid kos as ons honger is. Ons koop bloot geriefskos wat ons onmiddellik kan verorber om ons lus te stop. So pleks van rou blomkool of botterskorsie kies ons ’n vullende klaargemaakte pastei of tert.

Hier is vyf insigte vanuit die gedragsekonomie wat ons kan help om ons koskeuses beter te verstaan en slimmer keuses te maak:

  • Ons sukkel almal met selfbeheersing wanneer ons kos kies. Dit is óf omdat ons onmiddellike bevrediging verkies, óf omdat faktore soos honger en hoe die kos voorgesit word ons beïnvloed. Probeer om versoeking te verminder deur jou inkopies aanlyn te bestel. Dit sorg vir beter koskeuses.
  • Ons is meer geneig om die standaardopsie te kies. ’n Ander verbruikersgeit is dat ons meer geneig is om dieselfde ding te kies, selfs as die koste van ’n alternatief min of niks is nie. As ons die standaardopsie gesonder maak, soos om slaai pleks van skyfies of ’n vrug pleks van beskuitjies as ’n versnapering te kies, verbeter ons die moontlikheid dat ons gesonder kosse sal kies.
  • Eerste gesien, eerste geëet. Waar kos in ’n supermark uitgestal word, is ook belangrik. Dit is makliker om kos op oogvlak te sien en te koop. Die kans is drie keer beter dat jy die eerste kos wat jy sien by die kruidenier koop as die vyfde. Vestig aandag op gesonder kosse deur dit toegankliker te maak en meer prominent uit te stal. So verminder dit die uitwerking van ’n afleidende omgewing.
  • Ons kies gereeld kos op gevoel pleks van rasionele denke. Impulsiewe gedrag, soos om minder gesonde kos te kies, kan ’n gevolg van spanning of ander eise op ons denkvermoë wees. Probeer om nie inkopies te doen as jy fisiek of geestelik moeg is nie.
  • Eksterne aansporings kan ’n groot invloed hê op watter kos ons kies en hoeveel ons eet. Die geraasvlak, beligting en goed wat jou aandag aflei, asook die grootte en vorm van kos en houers, affekteer hoeveel ons koop en eet.

Soos Jacques Rousseau, dosent in kritiese denke en etiek aan die School of Management Studies aan die Universiteit van Kaapstad sê: “Die voedselbedryf bestaan om ons tevrede te stel, en het geen rede om die markvereistes van hul verbruikers te verwerp nie. As ons leer om minder geprosesseerde en gesonder kos te koop, sal hulle by die behoefte aanpas. Maar laat ons nie vergeet dat opvoeding belangrik is nie. Dit is ook belangrik om mense daaraan te herinner dat dit nie kos op sigself is wat ons doodmaak nie, maar eerder hoeveel daarvan ons eet (en in watter porsies).”

As jy meer bewus is van die faktore wat jou kopies beïnvloed, dink hoe jy jouself daarteen kan beskerm, en slim dog eenvoudige veranderinge aan die ruimtes om jou maak (soos jou kombuis of kantoorruimte), kan dit ’n positiewe uitwerking hê op hoe jy eet, inkopies doen, en kos bestel. Dit laat jou toe om met minder moeite slank te word of te bly.