Hou asma fyn dop
Asma is ’n toestand waar u inflammasie in u lugweë kry en dit opswel. Dit vernou die lugweë (die luggange waarmee lug by die longe in en uit gaan) en hulle skei ekstra mukus (slym) af.
As u gereeld kortasem is of ’n fluit- of hyggeluid in u borskas hoor wanneer u asemhaal, het u moontlik asma.
Vir sommige mense is asma net ’n geringe ergenis. Vir ander is dit ’n groot probleem wat met hulle daaglikse aktiwiteite inmeng en tot ’n lewensgevaarlike asma-aanval kan lei.
Asma kan nie genees word nie, maar die simptome kan beheer word. Asma verander dikwels mettertyd. Dit is dus noodsaaklik dat u en u dokter u tekens en simptome gereeld evalueer en u behandeling aanpas, indien nodig.
Tekens en simptome sluit in
- Kortasemheid
- Benoudheid of borskaspyn
- Slaapprobleme wat deur kortasemheid, hoes of asemgefluit veroorsaak word
- ’n Fluit- of hyggeluid met uitaseming (asemgefluit is ’n algemene teken van asma in kinders)
- Hoesbuie of aanvalle van asemgefluit wat deur ’n asemhalingsvirus, soos verkoue of griep, vererger word
Wanneer u ’n dokter moet gaan spreek
Asma-simptome is ernstig en kan dodelik wees as dit nie behandel word nie. Vroeë behandeling van asma kan langtermynlongskade verhoed en keer dat die toestand mettertyd erger word. Besoek u dokter:
- As u vermoed u het asma of as u enige van die bogenoemde simptome het.
- Om u asma na diagnose te monitor en saam met u dokter te werk om dit onder beheer te hou. Goeie langtermynkontrole help u om beter te voel en kan verhoed dat u ’n lewensgevaarlike asma-aanval kry.
- As u asma-simptome erger raak, kontak dadelik u dokter as u medisyne nie u simptome verlig nie of as u u vinnigwerkende inhaleerder (asma-pompie) meer gereeld moet gebruik.
- Asma verander dikwels mettertyd, so u sal moontlik van tyd tot tyd u behandeling moet aanpas.
Wanneer moet u noodbehandeling kry?
Hewige asma-aanvalle kan lewensgevaarlik wees. Werk saam met u dokter om te bepaal wat u moet doen as u tekens en simptome erger word – en wanneer u noodbehandeling nodig het. Tekens van ’n asma-noodgeval sluit in:
- Kortasemheid of asemgefluit wat vinnig erger word
- Gee verbetering, selfs nadat u u voorgeskrewe vinnigwerkende inhaleerder (asma-pompie) gebruik het
- Kortasemheid as u min fisieke aktiwiteit doen
Verwysings
www.mayoclinic.org/diseases-conditions/asthma/basics/definition/con-2002699 http://acaai.org/asthmahttp://acaai.org/asthma
Hierdie artikel bevat opinies en feite, en verwysings na ander inligtingsbronne. Raadpleeg altyd ’n geregistreerde gesondheidsorgkundige vir enige persoonlike advies.