Drie maande in my nuwe rol…


Beste Remedi-lid

Soos genoem in die eerste nuusbrief het ek by Kobus oorgeneem vanaf 1 Maart 2017 as die Hoofbeampte van Remedi . Ek is nou drie maande in die rol en ek geniet dit terdeë.

Eerstens wil ek Kobus bedank vir die professionele oorhandiging en vir sy bydrae oor die afgelope vyf jaar as Hoofbeampte. Ons is bevoorreg dat hy steeds op die Raad dien, as Remgro se verkose werkgewer-trustee. Ons wens hom alles van die beste toe in hierdie rol. Tweedens wil ek die Raad van Trustees bedank vir die vertroue wat hulle in my as die nuwe Hoofbeampte stel. Ek is met ope arms ontvang en geniet die uitdaging op hande.

’n Bietjie agtergrond: My loopbaan het in 1990 begin nadat ek my rekeningkunde-graad aan RAU (vandag bekend as die Universiteit van Johannesburg) voltooi het en as ’n klerk in finansies by Transatlantic Tobacco aangesluit het. In die negentigs het Transatlantic met Intercontinental saamgesmelt en Rothmans International geword, wat toe in 1999 British American Tobacco (BAT) geword het. Ek het verskeie posisies in finansies en bemarking beklee in my loopbaan van 26 jaar en BAT het my met vaardighede toegerus wat ek glo my in my nuwe rol as Hoofbeampte sal help.

Ek is met Amanda, wat ek op Hoërskool ontmoet het, getroud. Party van u sal haar ken aangesien sy vir 18 jaar ook by Rothmans International en BAT gewerk het. Ons het twee kinders, Shani en Juan, en ons woon in Somerset West. Ek is gebore en getoë in Roodepoort en daarom bly ek lewenslank ’n Leeus-ondersteuner! Ons is lief vir die buitelewe en vakansies word hoofsaaklik spandeer deur as gesin te kamp, te braai en hope pret te hê.

Ek is uiters trots daarop om by Remedi betrokke te wees – ’n Skema wat in 2017, 45 jaar jonk is. Remedi is op ’n fondasie gebou wat lank terug gelê is – en staan steeds sterk en is finansieel so gesond soos altyd. Ek glo een van die grootste voordele daarvan om aan ’n geslote skema te behoort, is juis: “Vir ons eie mense, bestuur deur ons eie mense.” Dankie aan almal wat oor die afgelope 45 jaar betrokke was en wat Remedi so ’n suksesvolle mediesehulpskema gemaak het. Hier is u nie net ’n nommer nie, u word as ‘n individu versorg.

Deesdae is die grootste uitdaging in die mediesehulpskemabedryf om die koste wat hoër as inflasie is, en toenemend styg, te balanseer terwyl die bydraes vir die lede bekostigbaar gehou word. Die enigste manier om hoër-as-inflasie-verhogings teë te werk, is om gesonder te leef.

Dit is wat my opgewonde maak omtrent my nuwe rol – die uitdaging om lede te beïnvloed om meer aktief te raak, gesonder te eet, vir siftingstoetse te gaan en op hoogte te bly met hulle gesondheid.

Positiewe leefstylveranderinge kan baie help om medieseskemabydraes vir almal bekostigbaar te maak.

In die opsig sien ek baie daarna uit om saam met die Raad van Trustees te werk om te verseker dat Remedi u gekose mediesehulpskema bly.

Groete

Jaco