Hoe om by die werk gesond te bly

Almal het hul eie doelwitte wanneer dit by persoonlike welstand kom. Vir sommige mense gaan dit oor gesond eet of fiks word, terwyl ander mense hul spanning bestuur.

Mense spandeer meeste van hul lewe by die werk en dit kan ’n uitwerking op hul fisieke, geestes- en finansiële gesondheid hê. En dis nie net mense wat fisiek hard werk wat probleme met fisieke gesondheid ontwikkel nie. Agt ure op ’n stoel voor die rekenaar vir vyf dae ’n week kan ook sy tol eis.

Hier is ’n paar wenke om jou by die werk gesond te hou:

  1. Drink genoeg water, so 8 tot 10 glase per dag. Daardie drieuurmoegheid wat baie mense by die werk tref, kan weens dehidrasie wees. So drink baie water.
  2. Oefening is een van die belangrikste dinge wat jy deur die dag kan doen om fiks en gesond te bly. Dis ’n goeie plan om tydens middagete te gaan stap. Dit raak van beide kalorieë en spanning ontslae. As jy regtig nie tydens middagete kan uitsluip nie, parkeer verder van ingange weg as wat jy op die oomblik doen. Dit gee jou ’n kort stappie in die oggend en laatmiddag. Jy kan ook besluit om dit 'n gewoonte te maak om die trappe pleks van die roltrappe te gebruik.
  3. Eet gesonde kos vir middagete by die werk en hou jou porsies dop sodat jy nie te veel kalorieë inkry en dan boonop die hele middag op ’n stoel stilsit nie.
  4. Moenie jou nek vir lang tye kant toe draai nie. Nekspanningsindroom kan ontwikkel as jy vir lank jou nek en die boonste gedeelte van jou skouers in ’n ongemaklike posisie hou. Dit kan gebeur met mense by die werk wat meeste van die dag die foon gebruik of wat baie tik.
  5. Verminder oogstremming; dis nog ’n probleem wat voor ’n rekenaar kan uitbroei. Dit kan hoofpyn, probleme met fokus en ’n toename in ligsensitiwiteit veroorsaak. Jou skerm moet omtrent ’n armlengte van jou oë af wees. Jy moet ook gemaklik die teks op jou skerm teen daardie afstand kan lees, sonder om skeeloog vir die skerm te kyk. As jy nie van ’n armlengte af op jou skerm kan lees nie, maak jou rekenaar se fontgrootte groter.
  6. Gaan met vakansie. Vakansies is ’n belangrike deel daarvan om by die werk gesond te bly. “Dis uiters voordelig om weg te kom vir ’n lang vakansie wat jou kan help om jou ‘batterye’ te herlaai," sê Jonathan Kramer, ’n kliniese sielkundige en die president van Business Psychology Consulting. “Vakansies help om spanning die trekpas te gee en jou gedagtes van werk af te kry." Spanning kan jou immuunstelsel aantas en die risiko van siektes vermeerder, verduidelik Kramer, so dis noodsaaklik om dit te verminder.
  7. Vermy dit om aanhoudend lang dae te werk. Mense is geneig om daarop te fokus om ’n projek af te handel en dan lang ure te werk om alles klaar te kry. Hulle is nie bewus van hoe dit hulle gesondheid aantas tot hul spanningsvlakke hoog loop en dit hul verhoudings en buie affekteer nie. Hierdie soort spanning staan algemeen as “burnout” bekend. Uitputting kan ook ’n persoon se immuunstelsel ondermyn en inmeng met die vermoeë om te konsentreer en te slaap.
  8. Ontsmet jou werkruimte. Jou sleutelbord, muis, foon en gedeelde drukkers kan duisende kieme huisves wat net wag om jou siek te maak. So gryp jou ontsmettingsmiddel. Virusse kan ure tot dae op harde oppervlakke oorleef, dit is oppervlakke soos koffiemasjiene, drukkers en hysbakknoppies.

Die belangrikste manier om by die werk gesond te bly, is selfbewustheid. Ken jouself en jou perke. Doen soveel as wat jy kan om binne daardie perke te bly en steeds jou werk te doen.