Wees hierdie somer sonslim
Suid-Afrika het nie sneeu vir die feesseisoen nie. Maar die tyd van die jaar beteken drie dinge: sonskyn, blou lug en kortbroeke. Die enigste probleem met dié kombinasie is dat dit dikwels sonbrand veroorsaak. Terwyl ons geneig is om onsself nie te veel aan sonbrand te steur nie, kan sonbrand velkanker veroorsaak.
Suid-Afrika (asook Nieu-Seeland en Australië) het een van die hoogste koerse van melanoom (’n soort velkanker) in die wêreld. Hier is ’n vinnige verduideliking van hoekom sonveiligheid vir almal noodsaaklik is – maak nie saak wat jou velkleur is nie – en ’n paar wenke oor hoe om jou liggaam se grootste orgaan met die nodige respek te hanteer.
“Ek brand nie maklik nie, so die son gaan my mos nie seermaak nie”
Jy is verkeerd. Melanien is ’n pigment wat in mense se hare, vel en oë voorkom en veroorsaak dat hulle bruin tot swart toon. Dit is waar dat hoe meer melanien jy het, hoe beter jou natuurlike beskerming teen sonbrand is. Terwyl ’n hoë konsentrasie melanien jou meer beskerming teen die son bied, voorkom dit egter nie velkanker nie.
Mense met‘n ligte vel, oë en hare, soos rooikoppe en blondines (en veral mense met ’n persoonlike of familiegeskiedenis van velkanker) het die hoogste risiko. Enigiemand kan egter velkanker kry, selfs mense met donker velle.
Hoe vermeerder sonlig die risiko van velkanker?
Sonbrand is ’n duidelike teken dat die DNS in die selle van jou vel deur te veel ultravioletbestraling (UV-bestraling) beskadig is. As jou liggaam nie die skade kan herstel nie, kan ’n vel sel begin verdeel en onbeheerbaar groei. Die groeisel kan mettertyd verkanker.
As jy besig is om hierdie te lees en reeds sonbrand het, moenie paniekerig raak nie. Lees die wenke hieronder en onthou volgende keer dat voorsorg beter as nasorg is.
“Ek het my UV-beskerming vergeet, maar een keer sal mos nie seermaak nie”
Ongelukkig kan selfs een sonbrand jou risiko verhoog om melanoom te ontwikkel. Kenners waarsku dat een ernstige sonbrand in die eerste 15 jaar van die lewe jou risiko van velkanker kan verdubbel.
Sonbeskerming is belangrik. Hier is hoe om vir jou vel te sorg.
Beskerm só jou vel dat jy nie in die son brand nie:
- Gebruik ’n breësprektrumsonskerm met ’n sonbeskermingsfaktor (SPF) van minstens 30. Smeer sonskerm aan minstens 30 minute voor jy buitentoe gaan, en smeer weer elke twee uur ná jy sweet of swem. Dit is bewys dat kinders wat gereeld sonskerm gebruik se kankerrisiko verminder met 80%.
- Hou babas en baie jong kinders heeltemal uit direkte sonlig uit.
- Dra ’n sonbril wat UV-bestraling blok om jou oë en die vel om dit te beskerm.
- Kry ’n somerhoed met ‘n bree rand wat orals om jou kop 'n skaduwee gee.
- Dra diggeweefde, los klere wat soveel van jou vel as moontlik bedek. Sekere materiaal het ’n ultravioletbeskermingsfaktor (UPF). Hoe hoër die graad, hoe meer beskerming bied dit teen sonlig.
- Vermy sonbeddens en sonlampe. Dit veroorsaak net soveel skade as natuurlike sonlig.
- Indien moontlik, probeer om nie tydens die warmste gedeelte van die dag (tussen 10:00 en 16:00) buite te wees nie, en bly soveel moontlik in die skaduwee. Die meeste weertoepassings vir slimfone gee ’n UV-indekstelling. Raadpleeg dit voor jy uitgaan om te besluit hoeveel sonbeskerming jy nodig het.