Waarom die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens jou nou nog meer nodig het as ooit tevore
Het jy dit reggekry om tot dusver 'n verkoue of griep te vermy? Gee jou immuunstelsel 'n klop op die skouer en oorweeg dit om bloed te gaan skenk by jou naaste skenkersentrum of mobiele bloedskenkveldtog. Dit is waarom:
Het jy geweet dat die bloedvoorraad deur die seisoen beïnvloed word? Dit is omdat mense in die winter meer geneig is om virussiektes, soos griep, te kry en 'n mens kan nie bloedskenk wanneer jy 'n verkoue of griep het nie. Dit beteken dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) op gesonde skenkers staatmaak om betyds bloed te skenk om die bloedvoorraad stabiel te hou.
Sodra 'n persoon gesond is en meer as sewe dae van antibiotika af is, kan hy of sy weer skenk (mens kan elke agt weke skenk). Gereelde skenking is belangrik omdat 'n eenheid bloed net vir 42 dae bruikbaar is. Ons het met Sini Subrayen van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) gesels om meer te uit te vind.
Wat gebeur met jou bloed nadat jy dit geskenk het??
Geskenkte bloed kan in baie verskillende velde gebruik word. Mense wat mediese behandeling kry, soos kankerbehandeling, benodig ongeveer 27% van die voorraad, terwyl mense met verloskundige en ginekologiese kwessies, soos bevallings, kort op hulle hakke is deurdat hulle ongeveer 26% van die bloed benodig. Die res gaan na chirurgiese gevalle (soos hartchirurgie), pediatriese gevalle (soos kinderleukemie), ortopediese gevalle (soos heupvervangings), ongevalle en navorsing.
Blykbaar kan elke eenheid bloed tot drie lewens red. Hoe is dit moontlik?
Bloed bestaan uit rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies wat in plasma gesuspendeer is. Deur heelbloed in hierdie verskillende komponente te skei en net die spesifieke komponent wat nodig is te gebruik, is dit moontlik om 'n enkele skenking te gebruik om verskeie pasiënte te behandel.
Waarom is dit so belangrik om 'n gereelde skenker te wees?
As jy vir die eerste keer bloedskenk, sal jou rooibloedselle nie gebruik word nie. Jou plasma word gekwarantyn tot jou volgende skenking. As alle toetse negatief terugkom ná jou tweede skenking, sal die gekwarantynde plasma van jou eerste skenking gebruik word.
Dit geld ook as jy vir 'n ruk lank nie bloed geskenk het nie.
Sodra jy drie keer geskenk het en jou bloed steeds negatief toets vir seksueeloordraagbare siektes, word al die komponente van jou bloed gebruik. Hoe meer gereeld jy dus skenk, hoe beter is die kans dat al die komponente van die eenheid wat jy skenk, gebruik word.
Hoeveel bloed samel die bloedbank in, en is dit genoeg?
SANBD probeer om 3,200 eenhede bloed per dag in te samel om 'n veilige en voldoende voorraad te verseker sodat hulle aan die eise van die pasiënte kan voldoen. Minder as 1% van Suid-Afrikaners is egter bloedskenkers, so hulle het altyd meer toegewyde, gereelde vrywilligers nodig om bloed te skenk.
Wat verg dit om 'n skenker te wees?
As jy tussen 16 en 75 jaar oud is, meer as 50 kg weeg en 'n veilige seksuele leefstyl lei, kan jy na 'n skenkersentrum of mobiele bloedskenkveldtog gaan en as 'n bloedskenker registreer. Dis al!
Wanneer moet iemand nie bloed skenk nie?
Pasiënte wat bloed nodig het, het die reg om bloed te ontvang wat so veilig as moontlik is en wat hulle geen skade sal berokken nie. Moenie bloedskenk as:
- Jy 'n seksueeloordraagbare siekte soos MIV of sifilis opgedoen het, of dalk mag opgedoen het, wat deur 'n bloedoortapping aan 'n pasiënt oorgedra kan word nie.
- Jou leefstyl jou risiko verhoog om 'n infeksie op te doen wat deur jou bloed oorgedra kan word nie. Byvoorbeeld, as jy meer as een seksmaat in die afgelope ses maande gehad het of as jy seksuele kontak met iemand gehad het wie se seksuele agtergrond vir jou onbekend is.
- Jy ooit dwelms ingespuit het nie.
- Jy bloedskenk om 'n gratis MIV-en-VIGS-toets te kry nie.
As jy dink dat jou bloed dalk onveilig mag wees, kan 'n ander persoon se lewe afhang van jou besluit om nie bloed te skenk nie.
Waarom moet ek bloed skenk?
Elke dag sou duisende mense sterf as ander nie hul bloed geskenk het nie. Die besluit om 'n veilige bloedskenker te word, beteken dat jy verbind is tot deelname aan 'n noodsaaklike gemeenskapsdiens wat uiteindelik die lewenskwaliteit van baie verbeter. Skenk dus as jy kan en so gereeld as wat jy kan. Veilige bloed red lewens!