Langdurige COVID: Hoekom hou sommige mense se COVID-19-simptome vir maande lank aan?
Meeste mense wat COVID-19 kry, herstel binne twee tot drie weke. Tog hou die simptome vir sommige mense aan vir maande nadat hulle die siekte opgedoen het, selfs al het hulle net 'n ligte geval van COVID-19 gehad. Dit word langdurige COVID genoem en dit kan uitputtend vir die lyers daarvan wees.
Dokters en wetenskaplikes leer steeds oor COVID-19 en hoe om dit te behandel, maar dit is duidelik dat die siekte ons oor die korttermyn en oor die langtermyn beïnvloed. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar meer en meer bewyse dat COVID-19 organe kan beskadig en bloedstolling en inflammasie verhoog. "Dit kan baie verskillende liggaamstelsels beïnvloed, vernaamlik die hart, longe en brein."
Wat is langdurige COVID?
Langdurige COVID is algemener as wat jy dink. Ongeveer een uit elke 10 mense wat COVID-19 kry, voel drie weke nadat hulle die siekte opgedoen het steeds siek.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie erken dat die gevolge van langdurige COVID, die ontwikkeling van nuwe mediese toestande nadat jy COVID-19 gehad het en die gesondheidsgevolge waarmee jy moet saamleef nadat jy COVID-19 gehad het baie stremmend kan wees. Mense met langdurige COVID sê dat hulle nou sukkel om alledaagse take te verrig.
Daar is nie 'n maklike manier om langdurige COVID by iemand te diagnoseer nie, maar baie mense wat dit het, is uitgeput (verskriklik moeg) en het 'n verskeidenheid lastige simptome wat dit vir werkende persone moeilik maak om terug te gaan werk toe.
Kan jy COVID-19 by iemand met langdurige COVID aansteek?
Die kort antwoord is, waarskynlik nie.
"Mense wat COVID-19 kry, blyk binne die eerste vyf dae die aansteeklikste te wees, maar nie daarna nie." sê dr Noluthando Nematswerani, die Hoof van Discovery Health se Centre for Clinical Excellence. Sy verduidelik dat tensy iemand weer met COVID-19 besmet word, dit onwaarskynlik is dat die persoon COVID-19 kan versprei bloot omdat hy of sy simptome van langdurige COVID het.
Die Cleveland Clinic het in Januarie 2021 gesê dat toetse nie die COVID-19-virus waarneem in mense wat 28 dae of meer nadat hulle besmet is nog simptome het nie.
Wat is die simptome van langdurige COVID?
Om heeltyd swak en uitgeput (vreeslik moeg) te voel is kenmerkend van langdurige COVID. Mense wat langdurige COVID het, het tegelykertyd 'n verskeidenheid simptome.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die United States Centers for Disease Control and Prevention (CDC) deel die simptome van langdurige COVID in drie groepe, naamlik algemene simptome, minder algemene simptome en ernstige langtermynkomplikasies.
Die algemeenste simptome sluit in:
- Uitputting (vreeslike moegheid)
- Kortasemheid
- Hoes
- Gewrigspyn
- Borskaspyn
Minder algemene, maar ernstiger simptome sluit in:
- Erge uitputting
- Breinwaas (sukkel om te dink en te konsentreer)
- Hoofpyn
- Spierpyn
- Koors wat kom en gaan
- Depressie
- Hartkloppings (voel of jou hart vinnig klop)
Ernstige langtermynkomplikasies van COVID-19 sluit in:
- Breintoestande, soos probleme met reuk en smaak, slaap, konsentrasie en geheue
- Hart- en bloedvatsiektes, soos inflammasie van die hartspier en verhoogde risiko vir skade aan die hart, longe en brein
- Abnormaliteite in longfunksie
- Ernstige nierbesering
- Veranderinge in die vel en haarverlies
- Psigiatriese simptome, soos depressie, angstigheid en veranderinge in buie
Hoe voel dit om langdurige COVID te hê?
Dit is duidelik dat langdurige COVID verander hoe goed mense hulle pligte kan nakom, kan werk en 'n goeie lewe kan lei. "Langdurige COVID beïnvloed elke aspek van die lewe. Dit beïnvloed mens se geestesgesondheid asook jou vermoë om te fokus en te werk, en dit kan ekonomiese gevolge ook hê. Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons die voorkoms van langdurige COVID erken en bewustheid daaroor kweek," voeg dr. Nematswerani by.
Navorsing wat BMC Health Services Research in Desember 2020 gepubliseer het, sluit besonderhede in van onderhoude met mense wat langdurige COVID het. Die mense met wie hulle onderhoude gevoer het, het gesê dat hulle in 'n siklus vasgevang was waar hulle stadig beter geraak het net om skielik weer sieker te raak. Dit was spanningsvol en hulle het nie geweet of hulle ooit weer heeltemal gesond sou wees nie
Een deelnemer, 'n kantoorwerker, het verduidelik hoe die breinwaas wat hulle ervaar het hulle beïnvloed het:
- "Ek werk nie, ek het nie... Ek was nie in staat om terug te gaan werk toe nie en toe word ek oortollig verklaar. Ek het ... Ek kan my nog nie eers voorstel hoe ek 'n ander werk gaan kry nie. Die afgelope week wonder ek, want dit voel of my breinwaas gelig het en dit voel uiteindelik (ná byna ses maande) of ek dalk eendag 'n nuwe werk sal kan kry. My lewe is egter glad nie soos dit voorheen was nie en, weet jy, dit is nie regtig die lewe wat ek wil hê nie. Ek moet beter raak."
- Ander het vertel van die langtermynuitputting wat hulle ervaar het en die dramatiese uitwerking op hulle vermoë om elke dag basiese take te verrig.
- "My energievlakke herstel - dit het my weke en weke geneem. Ek bedoel, ek het vanoggend vir twee ure gaan stap en toe ek teruggekom het, het ek geslaap vir twee en 'n half uur."
- "Die moegheid is letterlik soos om 'n muur te tref. Ek kan nie langer wakker bly nie. Dit is net so, dan moet ek bed toe gaan."
Hoe moet langdurige COVID behandel word?
Die beste persoon om langdurige COVID te behandel, is jou huisdokter. Hy of sy kan jou na 'n spesialis verwys indien nodig en seker maak dat jy die sorg kry wat jy nodig het. In die maande en jare nadat jy van COVID-19 herstel het, moet jy en jou dokter jou gesondheid dophou. "Dit is omdat daar moontlik langtermyngevolge is wat ons nog nie eers vasgestel het nie," sê dr. Nematswerani.
As jy COVID-19 gehad het, moet jy ook jou dokter gaan sien as jy enige kommerwekkende simptome het. Dit kan 'n teken wees dat jy 'n dieper mediese probleem het.
Is dit veilig vir mense met langdurige COVID om 'n COVID-19-entstof te kry terwyl hulle nog simptome het?
Ja. Volgens die CDC (Centers for Disease Control and Prevention): As 'n toets wys dat jy COVID-19 het (of as jy dink dat jy dit het), moet jy 10 dae wag (of totdat jy nie meer simptome van COVID-19 het nie) voordat jy die inenting kry. As jy egter die blywende simptome het wat kenmerkend van langdurige COVID is, moet jy teen COVID-19 ingeënt word.