Hoe kan jy tydens die vakansie jou blootstelling aan COVID-19 beperk as jy reis, by 'n hotel oorslaap, of inkopies doen?
Gaan jy tydens die vakansie vlieg, tolpad ry, of publieke vervoer gebruik? Gaan jy by 'n hotel of 'n selfversorgingseenheid oorslaap? Hoe jy ook al jou tyd tydens die vakansie verwyl, is dit belangrik om vol te hou met die voorkomende maatreëls wat jou blootstelling aan COVID-19 beperk en jou en ander mense veilig te hou.
Wat om te doen om veilig te bly
- As jy publieke vervoer gebruik, dra die hele tyd jou masker - oor jou neus en jou mond - en oorweeg dit om twee of drie maskers saam te neem sodat jy wanneer dit nodig is jou masker op 'n lang reis kan wissel. "Dra altyd ontsmettingsmiddel wat alkohol bevat saam met jou en vee oppervlaktes af voordat jy op hulle sit. Maak seker dat al die voertuig se vensters oop is," voeg Dr Noluthando Nematswerani, Discovery Health se hoof van die sentrum vir kliniese uitnemendheid, by.
- As jy privaat vervoer gebruik, maak seker dat almal in die voertuig verstaan watter voorkomingsmaatreëls nodig is om blootstelling aan COVID-19 te beperk by tolhekke (ontsmet dadelik jou hande nadat jy 'n bankkaart of kontant gebruik het om te betaal) en ander openbare plekke. Gebruik ontsmettingsmiddel wat alkohol bevat om openbare oppervlaktes waaraan jy gaan raak af te vee.
- Op 'n vliegtuig, hou by die streng veiligheidsmaatreëls wat die lugredery vereis. Draai die lugtuit bo jou sodat dit na jou kop wys en soveel vars lug moontlik kan sirkuleer. "Terwyl die vliegtuig se lugfilters van virusse in die lug ontslae sal raak, loop jy nog steeds die risiko om aan COVID-19 blootgestel te word terwyl jy in lang toue staan of kontak het met oppervlaktes waaraan mense gereeld raak in lughawes en die vliegtuig. Was en ontsmet gereeld jou hande," voeg Dr Nematswerani by.
Hoe kan jy jou blootstelling aan COVID-19 beperk terwyl jy in 'n hotel bly of soortgelyke akkommodasie gebruik?
- Wanner jy by jou akkommodasie opdaag, maak die vensters oop sodat daar vars lug inkom. Vee oppervlaktes waaraan mense gereeld raak af met ontsmetmiddel wat alkohol bevat.
- Kies om soveel moontlik aan buitelugaktiwiteite deel te neem.
- Dra ten alle tye jou lapgesigmasker wanneer jy in die openbaar is.
- As jy per bus, trein, taxi of binnelandse vlug reis, dra jou lapgesigmasker en vermy dit om aan jou gesig, ander mense, voorwerpe of oppervlaktes te vat. Wanneer jy jou bestemming bereik, was onmiddellik jou hande met seep en water vir minstens 20 sekondes. Gebruik 'n handontsmettingsmiddel wat alkohol bevat om jou hande te reinig terwyl jy reis en waar ook al jy nie toegang tot seep en water het nie.
- Bly op 'n afstand van ander mense terwyl jy in 'n tou staan en volg ontsmettingsprosedures in openbare plekke, soos 'n badkamer. As jy in 'n ry moet staan, probeer om dit so kort moontlik te hou.
- As jy in 'n hotel bly, gebruik aanlyn besprekings- en inklokstelsels, elektroniese kamersleutels en kontaklose betaalopsies as dit beskikbaar is. Dit sal seker maak dat jy dit vermy om te raak aan kontant of ander oppervlaktes wat gereeld geraak word en siektetoestande kan versprei.
- Bel vooruit en vra wat die hotel se strategie is om te keer dat COVID-19 versprei. Dit is nie nodig om elke oppervlakte te skrop en ontsmet nie. Goed waaraan mense gereeld raak, soos 'n deurknop of 'n ketel, moet ontsmet word. Om gereeld met seep en water jou hande te was, behoort alle virusse te dood.
- Beperk sover moontlik hoe gereeld jy gedeelde areas in die hotel gebruik, soos badkamers, OTM'e, jacuzzi's, swembaddens, salonne, gims en spa's.
Hoe kan jy jou blootstelling aan COVID-19 beperk terwyl jy inkopies doen?
- Maak seker dat jy wanneer jy die huis verlaat, jou gesigmasker en handontsmettingsmiddel het.
- Beperk hoe gereeld jy OTM'e en kontant gebruik. Kies liewer kontaklose of selfoonbetaalopsies.
- Gebruik kontaklose en selfbedieningsopsies om te betaal.
- As jy die trappe, roltrappe of hysbak neem, vermy dit om aan oppervlaktes te raak waaraan mense gereeld raak en ontsmet jou hande ná die tyd.
- Indien moontlik, kies buitelugwinkels aangesien daar beter ventilasie is en dit jou risiko beperk om aan COVID-19 blootgestel te word.
- As jy iets kry om te eet terwyl jy inkopies doen (al is dit beter om dit soveel moontlik te vermy), maak seker dat jy algemene voorkomingsmaatreëls nakom (maskerdra en afstandskepping). Probeer om buite te eet of sit naby die vensters by restaurante met goeie ventilasie.