Maak litte los vir die lente en begin oefen
In die wintermaande kry ons baie verskonings waarom ons oefening uitstel. "Dit raak vroeg donker", "dis te koud om te gaan stap of draf" - en so kan ons bed ons beste vriend word. Dit raak nou warmer en ons verskonings raak minder. Hier is drie uitstekende redes om weer te begin oefen en wenke oor hoe jy aan die gang kan kom.
Oefening kan jou kanse vergroot om gesond te wees
Jy kan bepaalde chroniese toestande voorkom en help om die simptome van sekere chroniese toestande te beheer deur gesonde kos te eet en te oefen.
Gereelde oefening kan help
- Verminder die risiko vir tipe 1-diabetes
- Beheer cholesterol
- Verminder die risiko dat aanpaksel (vetstowwe) in jou slagare opbou
- Verlaag hoë bloeddruk
- Verminder die risiko vir beroerte deur bloedsirkulasie te verbeter
- Versterk die immuunstelsel en verminder die kans om siek te raak.
Oefening is goed vir jou hart en longe
Al jou spiere raak sterker wanneer jy oefen. Dit geld ook vir jou hart. 'n Sterk hart het beter bloedsirkulasie. Dit help dat meer suurstofryke bloed na die liggaam vervoer word en bring koolsuurgas terug na die longe toe.
Oefening verhoog ook jou longkapasiteit. As jy gereeld oefen, sal jou liggaam minder suurstof nodig hê om bepaalde take te verrig, soos bergklimmers wat selfs in die dun lug by die hoogste pieke kan aanhou beweeg.
Oefening verminder spanning en gee jou 'n beter nagrus
Oefening kan jou van alledaagse spanning laat wegbreek. Oefening kan jou gedagtes van jou bekommernisse weglei, alhoewel die eintlike rede hoekom jy meer ontspanne is, chemies van aard is. Wanneer ons oefening doen, vervaardig ons liggame endorfiene wat ons goed laat voel. Ander hormone wat help om spanning en angstigheid te beheer, is noradrenalien, dopamien en serotonien. Ons liggame vervaardig ook meer hiervan wanneer ons oefen.
Mense wat minder gespanne is, slaap beter. As jy gereeld oefen, behoort jy vinniger aan die slaap te raak, beter te slaap en deur die dag minder moeg te voel as mense wat nie oefen nie.
Hoe om te begin
Dokters beveel aan dat mens ten minste vyf keer 'n week 30 minute se matige aërobiese oefening doen of drie keer per week 20 minute se strawwe oefening.
Besluit om oefening te doen en herinner jouself gereeld daaraan dat jy dit vir jou gesondheid doen. Dit help as jy iemand het wat saam met jou kan oefen sodat julle mekaar kan aanmoedig, soos 'n vriend of lewensmaat. Kies iets wat jy geniet. As jy nie van hardloop of oefening in 'n gimnasium hou nie, kies iets soos dans of Oosterse gevegskuns. Begin rustig en bou jou fiksheidsvlak geleidelik op om beserings te voorkom.
Indien jy enige gesondheidsprobleme het, moet jy eers met jou dokter gesels voordat jy begin oefen. Gesondheidsprobleme sluit in as jy onfiks is, 'n chroniese toestand het, 'n familiegeskiedenis van harttoestande het, as jy hoë bloeddruk of hoë cholesterol het en as jy rook.