Dis tyd vir jou jaarlikse griepinenting

Vir die eerste twee jaar ná COVID-19 in Suid-Afrika opgedaag het, het ons nie juis 'n griepseisoen gehad nie. Dit kan dalk vanjaar verander. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het reeds in November 2021 griep waargeneem, maande voordat die griepseisoen gewoonlik begin (winter).

Die beste manier om jouself teen griep te beskerm, is om die jaarlikse griepinenting te kry sodra die entstof beskikbaar word. Terwyl meeste gevalle van griep matig is, kan griep aanleiding gee tot ernstige komplikasies, soos sinusinfeksies en longontsteking. Aangesien die simptome van griep boonop soos COVID-19 kan lyk, beteken griepsimptome ook dat jou dokter jou vir 'n ongemaklike COVID-19-toets kan stuur.

Hoekom moet ek my (nou weer) aan griep steur?

Die dinge wat ons doen om te keer dat COVID-19 versprei (masker dra, fisieke afstandhouding en handwas) beskerm ons ook teen ander goggas soos griep. Soos die COVID-19-regulasies verslap, word dit makliker vir virusse soos griep om te versprei.

Professor Cohen van die NIOS dink griep kan weer die rondte begin doen as gevolg van "'n immuniteits-gaping aangesien griep vir twee jaar (2020 en 2021) nie in Suid-Afrika gesirkuleer het nie." Om die griepentstof te kry, kan help om jou teen hierdie gaping te beskerm. Die entstof laat jou immuunstelsel toe om jou teen griep te beskerm sodat jy óf glad nie siek word nie, of nie ernstig siek word nie.

Wanneer moet ek ingeënt word? Kan ek my COVID-19- en griepinenting gelyk kry?

Die griepentstof word gewoonlik teen die einde van Maart of April beskikbaar gestel. Terwyl jy jou inenting so gou moontlik behoort te kry, kan jy enige tyd in die winter teen griep ingeënt word.

Jy kan op dieselfde tyd teen COVID-19 en griep ingeënt word. As jy 'n kliniek besoek wat albei inentings doen, sal hulle gewoonlik die COVID-19-entstof in die een arm spuit en die griepentstof in die ander arm.

Jou dekking vir die griepentstof

Ons betaal vir die konsultasie waartydens iemand die griepentstof toedien uit jou beskikbare dag-tot-dag-voordele. Hoe ons vir die griepentstof betaal, hang af van jou ouderdom en jou gesondheid.

Ons betaal vir die griepentstof uit die Siftings en Voorkomingsvoordeel (sonder om jou dag-tot-dag-voordele te gebruik) mits jy:

  • 65 jaar of ouer is, of
  • Vir sekere chroniese toestande geregistreer is.

Andersins dek ons jou griepentstof uit jou beskikbare dag-tot-dag-voordele. As jy jou voordele opgebruik het, moet jy self vir die inenting betaal.

Inenting voorkom die onaangenaamheid van goor voel en voorkom ernstige siektes. Hou jou inentings op datum.

Bronne

Direkteur-generaal van Gesondheid. Nasionale COVID-19-inentingsprogramomsendbrief van 2022, 20 Februarie 2022.

Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes. Alert: Increase in influenza cases in South Africa, 17 November 2021. Geraadpleeg 7 Maart 2022.

Log in