Neem die tyd om verpleërs te vier
Hartlike dank aan Mediclinic dat hulle hierdie artikel met Remedi Medical Aid Scheme gedeel het en ons toestemming gegee het om dit te gebruik. Ons herpubliseer dit ter ere van Internasionale Verplegingsdag op 12 Mei. Verpleegpersoneel is 'n belangrike deel van die gesondheidsorgstelsel. Hulle is die primêre versorgers in enige hospitaal.
Buite die hospitaal gee hulle primêre gesondheidsorg, inentings en goeie mediese raad vir algemene skete en kwale. Ons kan nie sonder hulle klaarkom nie en ons bedank hulle vir hul toewyding en deernis.
Internasionale Verplegingsdag is 'n gulde geleentheid om erkenning te gee aan die onwrikbare bydraes van die verplegingsgemeenskap. Met COVID-19 as die mees onlangse wêreldwye uitdaging, is dit dus van pas om die tyd te neem om na te dink oor watse invloed die pandemie op verpleging, spanne en individue gehad het.
In 'n onlangse publikasie van Mediclinic het dié groep se leierskap gekyk na individue en spanne se bydraes aan versorging tydens die pandemie. Van hierdie spesiale stories is in die publikasie getiteld Braving the waves opgeneem en mense het persoonlike herinneringe gedeel.
Hier is 'n paar van die boodskappe:
Diane van Schoor (verpleegdienstebestuurder) het slegs drie maande voor die COVID-19-pandemie Suid-Afrika bereik het by Mediclinic Midstream aangesluit. Volgens haar het sy by 'n ongelooflike span ingeskakel. Niemand kon haar op die ervaring voorberei het nie en niks was ooit vir die span te veel nie. Al was COVID-19 'n opdraande stryd, het sy en haar span baie geleer, soos hoe om pasiënte op 'n nuwe manier te versorg. Met COVID-19 kon pasiënte skielik nie meer verpleegpersoneel se gesigsuitdrukkings sien nie. Die span moes dus dink aan innoverende maniere om sorg te bied.
Vanessa Moodley, eenheidbestuurder van die mediese kritiekesorgeenheid by die Wits Donald Gordon- mediese sentrum glo dat COVID-19 hulle geleer het om werklik die sterk- en swakpunte van elke spanlid te leer ken. Dit was vir haar 'n geleentheid om regtig haar personeel te leer ken. Hulle het begin om nou saam te werk en het meer van mekaar se behoeftes bewus geword, en almal het saamgestaan.
Lynette Louw van Mediclinic Pietermaritzburg het goeie dinge te sê oor Suzan Mtambo (kliniese fasiliteerder). Lynette sê Suzan het haar waarde deur behulpsame, bekwame en gedissiplineerde leierskap bewys. Tydens 'n ernstige COVID-19-uitbreking in hul streek was hierdie leierskapeienskappe nog duideliker. Ongelukkig het Suzan COVID-19 opgedoen en is sy vir agt dae in haar eie kritiekesorgeenheid verpleeg. Suzan sê dat sy geweier het om in enige ander hospitaal opgeneem te word. Sy het volle vertroue in haar span se vaardighede gehad en in die stelsels wat in hulle gevestig het.