Siftingstoetse waarvoor elke vrou moet gaan

Augustus is Vrouemaand en vanjaar se tema is vroueregte. Een van dié regte is om beheer oor jou eie gesondheid en liggaam uit te oefen. Ons kyk na van die siftingstoetse wat vroue nodig het en hoekom dit nodig is.

Vir jou om gesond te wees, moet verskeie liggaamsisteme goed saamwerk. Die probleem is dat hoe goed jy voel nie altyd wys hoe gesond jy is nie. Neem beheer van jou gesondheid met roetinesiftingstoetse, soos jou jaarlikse gesondheidsondersoek, 'n Papsmeer en ná 40, 'n mammogram.

Wanneer jy vir roetinesiftingstoetse gaan, word jy beloon met beter kennis oor jou gesondheid en die geleentheid om jou gesondheid te verbeter.

Siftingstoetse vir kanker

Borskanker en servikale kanker is twee van die mees algemene soort kankers by Suid-Afrikaanse vroue. Gelukkig is die kans op herstel goed as jy dit vroeg opspoor. Deur jou liggaam te ken, te weet wat vir jou normaal is en gereeld vir siftingstoetse te gaan, kan jy keer dat kanker jou onkant vang.

'n Papsmeer kan servikale kanker vroeg opspoor

Vroeë servikale voorkankers of kankers het dikwels geen tekens of simptome nie. Dis waarom dit so belangrik is om minstens elke drie jaar 'n Papsmeer te kry. Vrouelede van Remedi Medical Aid Scheme (Remedi) het dekking vir een Papsmeer elke jaar uit ons Siftings- en Voorkomingsvoordeel.

'n Papsmeer kan selle wat tekens van voorkanker wys en servikale kanker opspoor. As jou servikale siftingstoets se uitslag abnormaal is, beteken dit nie noodwendig dat jy kanker het nie. Meeste abnormale uitslae word deur 'n infeksie of behandelbare voorkankeragtige selle veroorsaak, pleks van kanker.

'n Mammogram wys borsknoppe wat dalk borskanker kan wees

Vroue spoor dikwels borsknoppe self op voor 'n dokter onraad vermoed. Dit is hoekom dit so belangrik is om elke maand 'n borsselfondersoek te doen om abnormaliteite op te spoor. As jy jonger as 40 is, hoef jy slegs vir 'n mammogram (bors-X-straal) te gaan as jy 'n knop voel of 'n familiegeskiedenis van borskanker het.

Vrouelede van Remedi het dekking vir een mammogram elke jaar uit ons Siftings- en Voorkomingsvoordeel. 'n Mammogram kan 'n borsknop opspoor nog voor jy dit kan voel.

'n Gesondheidsondersoek kan ander toestande vroeg opspoor

Jy kan voorkom dat jy sekere toestande opdoen as jy die tekens raaksien voor die toestand vatkans kry. Die gesondheidsondersoek meet jou bloedsuiker, bloeddruk en cholesterol, en bereken dan jou liggaamsmassa-indeks (BMI). Hierdie siftingstoetse bepaal jou risiko om toestande soos chroniese hoë bloeddruk, tipe 2-diabetes, hoë cholesterol en vetsug op te doen.

Jou gesondheid is uniek. Ons gebruik dus die uitslae van jou individuele gesondheidsondersoek om jou na gesondheidsorgprogramme wat toestandspesifiek is te verwys indien dit nodig is. Ons programme gee aan lede en hul dokters die nodige hulpmiddels om gesondheidstoestande te moniteer en te bestuur.

As die uitslae van jou gesondheidsondersoek wys dat jy die risiko loop om sekere toestande te ontwikkel, het jy dekking vir algemene siftingstoetse en bykomende toetse op grond van jou ouderdom, geslag en gesondheidsprofiel.

Moenie wag nie. Gaan vir jou siftingstoetse om toestande vroeg te vang vóór dit kans kry om jou beet te kry!

Bronne

Suid-Afrikaanse regering. Women's Month 2022
Wêreldgesondheidsorganisasie. Human rights and health.
Kankervereniging van Suid‑Afrika (KANSA). What you need to know about cervical cancer.
KANSA.Women & cancer.

Log in