Ses belangrike siftingstoetse vir algemene siektes

Om vir gereelde voorkomende siftingstoetse vir algemene siektes te gaan, is een van die grootste beleggings wat jy in jou gesondheid kan maak. Deur met jou jaarlikse gesondheidsondersoeke vol te hou, kan jy verseker dat die lewe wat jy lei die lewe is waarvan jy hou.

Die lewe kan soms oorweldigend besig wees, en daarom is dit belangrik om proaktief te wees deur jou gesondheid 'n prioriteit te maak. Gereelde, voorkomende siftingstoetse kan die verskil maak tussen 'n lang, gesonde lewe en een wat vol voorkombare gesondheidsprobleme is.

Vroeë opsporing gee jou beter behandelingsopsies en meer tyd om ingeligte besluite te neem oor hoe om jou gesondheid die beste te bestuur. Hier is 'n paar van die noodsaaklike siftingstoetse vir fisieke gesondheid waarvoor jy gereeld moet gaan:

Kontrolering van jou bloeddruk

"Hoë bloeddruk is 'n groot risikofaktor vir hartsiektes en beroertes en dit het dikwels geen voelbare simptome nie," sê kliniese kardioloog, dr. David Jankelow.

"'n Eenvoudige bloeddrukmeting kan help vasstel of jy hoë of selfs lae bloeddruk het en jou in staat stel om jou bloeddrukvlakke beter te bestuur. Deur kliniese aanbevelings te volg en 'n gesonder leefstyl te lei, is dit heeltemal moontlik om jou risiko vir ernstige gesondheidsprobleme te verminder en selfs te voorkom dat jy dit in die toekoms kry," voeg hy by.

Cholesteroltoetse

"Jou cholesterolvlak is 'n goeie aanduiding van jou algemene hartgesondheid," sê dr Jankelow. "Hoë vlakke van slegte cholesterol (of LDL-cholesterol) kan jou risiko vir hartsiektes verhoog. Hierdie vlak moet altyd laer as 100 wees," voeg hy by.

'n Eenvoudige bloedtoets, wat ons 'n lipiedpaneel of lipiedprofiel noem, meet jou cholesterolvlakke en help om vas te stel of jy enige leefstylveranderinge moet aanbring om jou hartgesondheid beter te beskerm of te verbeter. Jy moet gewoonlik vas voordat jy die toets laat doen sodat die uitslae akkuraat kan wees. Jy mag gewoonlik vir 12 ure voor die toets niks eet of drink nie.

"Die uitslae sal enige potensiële risiko vir hartsiektes of 'n beroerte vir jou dokter aandui. As die vlakke hoog is, sal jou dokter ook aanbeveel dat jy gesonder leef deur leefstylaanpassings te maak, soos om meer oefening in jou daaglikse roetine in te sluit, 'n gesonde gewig te handhaaf, behoorlik te eet, stres te beheer, die nodige medisyne te neem en enige bloeddruk- of bloedsuikerkwessies te beheer."

Siftingstoets vir diabetes

In 'n wêreld waar kitskos goedkoop, maklik toeganklik en soms 'n gerieflike opsie vir 'n besige skedule is, is diabetes 'n gesondheidskwelling wat vinnig al hoe groter word. Vroeë opsporing is die sleutel tot die bestuur van so 'n toestand en dit verlaag jou risiko vir ernstige gesondheidskomplikasies.

'n Vinnige bloedtoets kan bepaal of jy die risiko daarvoor loop en gereelde ondersoeke by jou gesondheidsorgpraktisyn kan jou help om die siekte te bestuur om verdere komplikasies te voorkom.

Tipiese toetse sluit in:

  • A1C-toets - dit meet gemiddelde bloedsuikervlakke (gewoonlik oor 'n tydperk van twee of drie maande). Hierdie toets kan aandui of suikervlakke pre-diabeties of diabeties is.
  • Vastende bloedsuikertoets - dit word gewoonlik gedoen nadat jy oornag gevas het (geen kos geëet of vloeistowwe gedrink het nie). Dit kan ook vir 'n gesondheidsorgverskaffer 'n aanduiding van pre-diabetiese of diabetiese toestande gee.
  • Glukosetoleransietoets - hierdie toets meet bloedsuikervlakke voor en ná die drink van 'n vloeistof wat glukose bevat. Jy moet oornag vas en dan word jou bloed op die dag van die toets getrek. Sodra jy die vloeistof gedrink het, sal jou bloedsuikervlakke periodiek nagegaan word, byvoorbeeld ná 'n uur, ná twee ure en selfs weer ná drie ure.
  • Lukraak bloedsuikertoets - hierdie toets meet jou bloedsuiker ten tye van toetsing. Jy hoef nie te vas nie en dit kan enige tyd van die dag (of nag) gedoen word.
Assessering van jou gewig of liggaamsmassa-indeks

Dit is 'n siftingsinstrument wat die verhouding van jou lengte tot jou gewig bepaal om sodoende te skat hoeveel liggaamsvet jy het. Hoe hoër jou BMI is, hoe groter is jou risiko vir sekere siektes, soos hartsiektes, hoë bloeddruk, tipe 2-diabetes, galstene, asemhalingsprobleme asook sekere kankers.

Siftingstoetse vir kanker

Gereelde kankersiftingstoetse, soos mammogramme, papsmere en kolonoskopies, help om kanker vroeg op te spoor. Behandeling vir kanker wat vroeg opgespoor word, is baie doeltreffender en baie goedkoper. Om vir hierdie ondersoeke te gaan, kan lewensreddend wees en dit is noodsaaklik om jou algemene gesondheid te handhaaf

Oogtoetse

Om gereeld jou oë te laat toets, is nodig om jou goeie sig te beskerm en te behou en oogsiektes te voorkom .'n Jaarlikse oogtoets kan help om 'n reeks oogtoestande op te spoor, van miopie (bysiendheid) tot katarakte en makulêre degenerasie.

'n Eenvoudige oogtoets kan ook insigte bied oor jou huidige algemene gesondheidstatus. Opmerklike veranderinge in jou oë kan op ander gesondheidskwessies soos diabetes en hoë bloeddruk dui. Soos baie ander siektes toon die meeste oogsiektes geen simptome in hul vroeë stadiums nie, daarom is dit noodsaaklik dat jy hierdie toetse gereeld laat doen.

Om jou fisiekegesondheidsondersoek vir nog 'n dag uit te stel, is 'n gesondheidsrisiko, want dit kan dalk te laat wees. Deur jou gesondheidstatus te ken en potensiële gesondheidsprobleme in die kiem te smoor, kan jy optree en moontlik jou lewe red.

Log in