Ses maklike maniere om na jou oë om te sien
Jou sig kan verswak soos jy ouer word of dit kan weens sekere gesondheidstoestande verswak. Hier is ’n paar metodes wat jy kan gebruik om jou sig te beskerm of selfs te verbeter:
1. Neem ’n blaaskans van jou rekenaarskerm
Neem elke twee tot drie ure ’n blaaskans as jy voor ’n rekenaar werk. Die ideaal is ’n blaaskans van omtrent 15 minute. Tydens die blaaskans behoort jy na voorwerpe te kyk wat ’n paar meter van jou weg is. As jy te veel tyd voor ’n skerm spandeer, kan dit jou kans vermeerder om bysiendheid te ontwikkel.
2. Maak seker dat jy in goeie lig werk
Sit langs ’n venster terwyl jy werk en maak seker dat die lig in jou huis van goeie gehalte is. As dit nie moontlik is om langs ’n venster te sit nie, kan jy ’n gloeilamp wat natuurlike lig uitstraal (volspektrum UV gloeilamp) as ‘n lessenaarlamp vir jou aanskaf.
3. Dra ’n sonbril wanneer jy buite is
Dis noodsaaklik om jou oë teen ultravioletlig (UV-lig) te beskerm. Oormatige blootstelling aan UV-lig kan jou oë beskadig en jou risiko vermeerder om katarakte, oogkanker of groeisels op die oog (soos pterigium) te ontwikkel. Dis belangrik om te onthou dat UV-lig deur wolke kan beweeg en dwarsdeur die jaar voorkom, so dis die beste om altyd ’n sonbril te dra as jy buite is.
4. Laat jou oë gereeld ondersoek
Om jou oë gesond te hou, moet dit gereeld ondersoek word. Selfs al dra jy nie ’n bril of kontaklense nie, moet jy gereeld vir ’n gedilateerde-oogondersoek gaan. ’n Gedilateerde-oogondersoek kan help om oogtoestande (soos gloukoom en makulêre degenerasie) reeds in ’n vroeë stadium op te spoor.
Sodra jy in jou 40’s en 50’s is, word gereelde oogondersoeke nog belangriker. As jy ’n bril of kontaklense dra, moet jy op hoogte bly van enige veranderinge aan jou sig en seker maak dat jou oogkundige jou voorskrif bywerk. Jou oogkundige kan jou terselfdertyd inlig as jy moontlik besig is om enige probleme met jou sig te ontwikkel. As diabetes by jou gediagnoseer is, is dit besonder belangrik dat jy elke jaar vir ’n gedilateerde-oogondersoek gaan.
5. Bestuur jou chroniese toestande
Ander gesondheidstoestande wat tot sigprobleme kan bydra, sluit in: hoë bloeddruk, hartsiekte, hoë bloedcholesterol, kanker, niersiekte en beroerte. As jy die regte behandeling vir chroniese toestande kry en ’n gesonde leefstyl volg, kan dit help om jou risiko te verminder om komplikasies soos oogprobleme te ontwikkel.
6. Kry genoeg vitamien “See”
Vitamien A, C en E het anti-oksidantiese en anti-inflammatoriese eienskappe wat moontlik jou risiko van makulêre degenerasie kan verminder. Neem aanvullings of maak seker dat jou dieet kosse insluit wat ryk aan vitamien A, C en E is.
Om ’n gesonde leefstyl te volg, die regte soort kos te eet, gereeld te oefen, ’n sonbril te dra en genoeg slaap te kry, kan alles bydra tot beter algehele gesondheid en ook ooggesondheid.
Dekking vir oogkunde
Kort jy binnekort ’n nuwe bril? Remedi se Optiese Voordeel gee jou dekking vir gesondheidsorgdienste wat met ooggesondheid verband hou. Ons betaal eise teen tot en met 100% van Remedi se tarief. Remedi het ’n kontrak met Preferred Provider Negotiatiors (PPN) se netwerk om seker te maak dat jy die meeste voordeel uit jou Optiese Voordeel trek.
Remedi se Optiese Voordeel sluit dekking in vir lense, ’n raam, kontaklense en chirurgie.
Vir meer inligting oor jou voordele vir oogkunde vir 2020 en besonderhede oor hoe hierdie voordeel op jou spesifieke voordeelopsie werk, klik hier.