Inentingsweifeling - hoekom gebeur dit?

In 2019 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die ingesteldheid om huiwerig te wees of heeltemal te weier om jou te laat inent al is entstowwe beskikbaar - oftewel 'intentingsweifeling' - as een van die tien bedreigings teen wêreldgesondheid gelys.

Verskeie literatuur wys uit dat intentingsweifeling nie nuut of uniek aan koronavirusentstowwe, en spesifiek COVID-19-entstowwe, is nie. Algemene redes vir weifeling in Suid Afrika sluit in:

  • Kwellinge oor hoe vinnig die entstowwe ontwikkel is asook die regulatoriese goedkeuringsproses wat gevolg is (noodgebruikmagtiging in die VSA)
  • Veiligheidskwellinge (die newe-effekte van entstowwe) wat met die COVID-19-entstowwe verband hou
  • Gebrek aan vertroue in entstowwe en inenting weens waninligting
  • Godsdienstige en kulturele oortuigings
  • Waninligting en mites
  • Die invloed van antivaksinasiesteunwerwers

Hoekom is intentingsweifeling te verwagte, maar ook gevaarlik?

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir maatskaplike verandering en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se afdeling vir 'n ontwikkelende, bekwame en etiese staat het onlang 'n studie oor hierdie soort weifeling gedoen. Volgens hierdie studie is die mees algemene verduidelikings wat mense gee waarom hulle nie die entstof wil kry nie, die volgende:

  • Kwellinge oor newe-effekte (25%)
  • Kwellinge oor die doeltreffendheid van die entstof (18%)
  • Verduidelikings wat verband hou met samesweringsteorieë (7%) of die bonatuurlike (4%).

Die implikasies van mense wat weifel of die entstowwe nie aanvaar nie, kan wees dat minder mense ingeënt word wat dit moeilik maak om bevolkingsimmuniteit te bereik. Hierdie moontlike gevolge kan dan veroorsaak dat COVID-19-infeksies steeds versprei met 'n toename in die hospitalisasie of sterftes van mense wat nie ingeënt is nie.

Hanteer huiwering

'n Sewentiende-eeuse gesegde herinner ons dat niemand 'n eiland is nie. As mens onseker is, is dit beter om vrae te vra. Dit is ook belangrik wanneer mens intentingsweifeling hanteer. Ons moet altyd debat en gesprekke oor inentings aanmoedig; dit is 'n ingryping wat lewens red.

Pleks daarvan om mense wat onseker is of hulle die inenting moet kry of nie, uit te skel of te veroordeel, moet ons liefs die nodige inligting met hulle deel. Of ons kan hulle na geloofwaardige inligtingsbronne verwys sodat hulle 'n ingeligte besluit oor inenting kan neem. Op stuk van sake is kommunikasie nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie, maar 'n voortgesette proses.

Inentingsvertroue

Volgens die Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) is 'intentingsvertroue' die vertroue wat pasiënte, hul gesinne en gesondheidsorgkundiges in die volgende het:

  • Entstowwe wat aanbeveel word
  • Die gesondheidsorgkundiges wat entstowwe toedien
  • Die prosesse en beleide wat betrokke is by die ontwikkeling van entstowwe, die toestaan van lisensies of magtiging, die vervaardiging en die gebruiksaanbevelings vir entstowwe.

Om te aanvaar dat mense vrae mág vra oor die veiligheid en die doeltreffendheid van COVID-19-entstowwe word beskou as 'n belangrike faktor om vertroue op te bou. Mense se vorige ervaring van entstowwe kon moontlik 'n negatiewe sielkundige uitwerking op hulle gehad het. Dit kan daartoe lei dat hulle beskaamd of angstig voel wat op die ou end daartoe kan lei dat hulle weerstand tot verandering bied.

Om mense wat ingeënt is hul ervarings te laat deel, kan een manier wees om intentingsweifeling teen te werk.

Die Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming beveel ses maniere aan om vertroue in die COVID-19-entstowwe op te bou:

Maak dit duidelik dat jy besluit het om ingeënt te word en vier dit!

Log in