Hoe moet ons die stigma rondom geestesgesondheid in die werkplek hanteer?
Geestesgesondheid is deel van ons almal. Nes fisieke gesondheid, kan ’n mens se geestesgesondheid van goed na sleg wissel. Mense reageer dikwels meer negatief wanneer hulle uitvind dat depressie by ’n kollega gediagnoseer is as wanneer hulle uitvind dat ’n kollega ’n fisieke siektetoestand het. Dit is nietemin belangrik om te besef dat goeie geestesgesondheid ’n noodsaaklike deel van algehele goeie fisieke gesondheid is, en dit moenie gestigmatiseer word nie.
Wat kan jy doen om iemand te ondersteun as hy of sy probleme met geestesgesondheid ervaar?
Medewerkers se ondersteuning speel ’n belangrike rol in die behandeling en herstel van geestesgesondheidsprobleme. As iemand na aan jou probleme met sy of haar geestesgesondheid ervaar, kan jy ’n enorme verskil maak deur die persoon te help om die regte behandeling te kry, voordele te verkry en simptome te hanteer. Jy kan ook ’n deurslaggewende rol speel deur jou kollega te bemoedig en ondersteuning te bied op sy of haar pad na herstel.
As iemand na aan jou met sy of haar geestesgesondheid sukkel, kan jy dalk self met ’n klomp moeilike emosies sukkel, soos vrees, skuld, woede, frustrasie en wanhoop. Dit kan dalk moeilik vir jou wees om dié siektetoestand te aanvaar. Jy kan magteloos voel weens sy of haar simptome of jy kan moontlik bekommerd of omgekrap voel deur vreemde gedrag wat jy nie verstaan nie.
Hoe kan jy dit hanteer as ’n kollega ’n probleem met sy of haar geestesgesondheid het?
- Onderskei tussen die persoon en die toestand. Selfs as jy nie die toestand respekteer nie, kan jy nog steeds die persoon respekteer. Onderskei ook tussen medisyne se newe-effekte, die toestand en die persoon.
- Dit kan nodig wees om jou verwagtinge te hersien. Erken die merkwaardige moed wat jou kollega moontlik aan die dag lê terwyl hy of sy ’n geestesgesondheidstoestand hanteer.
- Aanvaar gedrag wat vir jou vreemd is. Dit kan ’n simptoom van die toestand wees, so probeer om dit nie persoonlik op te neem nie.
- Stel grense. Jy het die reg om seker te maak dat jy veilig is. Dit is belangrik om grense te hê en duidelike perke te stel.
- Leer jouself meer. As jy meer leer oor geestesgesondheidprobleme en hoe om dit te behandel, kan jy belangrike insigte kry in die daaglikse stryd van iemand by wie ’n geestesversteuring gediagnoseer is.
- Indien moontlik, verminder spanning. Spanning kan veroorsaak dat simptome van geestesgesondheidsprobleme opvlam. Dit is juis daarom belangrik om ’n gestruktureerde en ondersteunende omgewing vir jou medewerker te skep. Moenie te veel druk op hom of haar plaas nie, en vermy dit om sy of haar vermeende tekortkominge te kritiseer.
- Bemagtig jou medewerker. Wees versigtig om nie take oor te neem wat hy of sy self kan doen nie of namens hom of haar take te verrig nie. Probeer om jou kollega te ondersteun terwyl jy hom of haar nog steeds aanmoedig om so onafhanklik moontlik te wees. Om te erken dat ’n persoon beperkte vermoëns het, behoort nie te beteken dat jy niks van hom of haar verwag nie. Bly positief en maak seker dat jy jou medewerkers nader as jy hulp nodig het om ’n situasie te hanteer.