Ons vier elke jaar op 29 September Wêreldhartdag. Hierdie dag is die Wêreldhartfederasie (World Heart Federation) se wêreldwye inisiatief om mense bewus te maak van kardiovaskulêre siektes (hartsiekte) en dat dit belangrik is om 'n gesonde leefstyl te handhaaf om jou hart gesond te hou.
Wat is hartsiekte?
Kardiovaskulêre siekte, oftewel hartsiekte, is 'n algemene term vir toestande wat die hart of bloedvate affekteer. Hartsiekte hou gewoonlik verband met die vetterige aanpaksels wat binne slagare opbou (aterosklerose) en 'n verhoogte risiko van bloedklonte.
Selfs tydens COVID-19 bly kardiovaskulêre siektes die wêreld se grootste rede waarom mense sterf en veroorsaak om en by 18 miljoen sterftes 'n jaar. In Suid-Afrika sterf 215 mense elke dag aan hartsiekte. In 2018 het Suid-Afrika 'n keerpunt bereik. Die sterftesyfer vir nie-oordraagbare siektes het die gesamentlike sterftesyfer van MIV/VIGS en tuberkulose verbygesteek. Van alle nie-oordraagbare siektes, is hartsiekte uitgelig as die grootste bydraer tot sterftes in Suid-Afrika.
Baie faktore en ander mediese toestande kan tot hartsiekte bydra, waaronder rook, diabetes, hoë bloeddruk en vetsug.
Feite oor vroue en hartsiekte
In die Verenigde State is hartsiekte die grootse rede waarom vrouens sterf en veroorsaak elke jaar een uit drie sterftes. Het jy egter geweet dat dit 1.5 keer meer waarskynlik is vir vroue tussen 35 en 59 jaar in Suid-Afrika om aan toestande te sterf wat met hartsiekte verband hou as vir dieselfde ouderdom vroue in die Verenigde State? Die mite dat hartsiekte 'n "risiko vir mans is", doen al jare lank die rondtes. Vir baie jare is vroue se hartgesondheid ietwat oor die hoof gesien. Die Amerikaanse hartvereniging (American Heart Association) is een van die wêreldwye organisasies wat bewusmaking oor hierdie saak aanroer. Elke jaar in Februarie loods dié organisasie die #GoRedforWomen-veldtog om mense oor hartsiekte in vroue bewus te maak. Jy kan hier verder lees: deel die skakel vandag met vriende, familie en geliefdes om met bewusmaking te help!
Wenke om hartsiekte te voorkom
Die goeie nuus is dat jy hartsiekte kan voorkom en dit beveg. 'n Belangrike voorkomende maatreël om jou risiko van hartsiekte te verminder, is om gesondheidsoptrede en risikofaktore te bestuur. Maar hoe weet jy wat jou risikofaktore is? Gereelde siftingstoetse een tot twee keer per jaar (afhangend van jou risikofaktore) is 'n uitstekende manier om jou hart te beskerm. Jaarlikse siftingstoetse sluit in dat iemand jou:
- Bloeddruk neem
- Cholesterol- en bloedsuikervlakke meet
- Liggaamsmassa-indeks (BMI) en middellyfomtrek nagaan.
Eet gesond en drink verstandig
Om en by 80% van hartsiekte en beroerte kan met eenvoudige leefstylveranderinge voorkom word. Volgens kardioloog Dr David Jankelow is 'n gesonde leefstyl net so belangrik soos medisyne wanneer jy na jou hart omsien.
Hieronder is 'n paar leefstylveranderinge wat jou kan help om jou hart sterk en gesond te hou. Fokus daarop om 'n gesonde, gebalanseerde dieet te volg om jou risiko van hartsiekte en beroerte te verminder. Dit sluit in:
- Drink meer skoon water en onversoete tee of koffie
- Eet kleiner porsies kos, veral as dit by vetterige, styselagtige kos of kos met baie sout en suiker kom. Kies liewer gesonde vette (soos avokado en vetterige vis) en plantolies (soos kanola- en olyfolie)
- Vervang geraffineerde grane met hoëveselalternatiewe soos bruinrys, hawermout, volgrane en peulvrugte
- Kies maer en vars proteïne, soos hoender sonder vel en vis
- Hou matigheid voor oë as jy alkohol drink.
Raak aktief
Studies wys dat gereelde oefening die faktore beïnvloed wat met hartgesondheid verband hou. Oefening veroorsaak laer bloeddruk, gesonder cholesterolvlakke en beter bloedsuikerregulasie. Oefening help ook kalorieë brand, wat jou kan help om 'n gesonde gewig te handhaaf of te bereik. Hier is 'n paar wenke om jou aan die gang te kry hetsy jy matige of hoë-intensiteitoefening geniet:
- Doen elke week 150 minute matige-intensiteitoefening, soos flink stap, stadig fietsry of dubbelspel tennis speel
- Probeer 75 minute van hoë-intensiteitoefening elke week, soos om vinnig fiets te ry, te boks, of te draf.